God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Die Suiwerste Vorm van Aanbidding
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
1 Samuel 15:22 Maar Samuel antwoord “Wat verkies die Here: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme. (NLV)
Ons leef in 'n wêreld wat verslaaf is aan goed waarvan ‘n groot ophef gemaak word. Die sosiale media is mal daaroor – ‘n reusagtige skenking; ‘n openbare verskoning; ‘n groot valse vertoon van vriendelikheid. Maar agter die kollig is dit die klein, goedjies wat die meeste saakmaak; daardie goedjies wat nie aan die groot klok gehang word nie. Gehoorsaamheid is een van daardie keuses wat nie baie populêr is nie, maar gehoorsaamheid is die sleutel tot transformasie.
Stel jou voor dat 'n jong man maande lank spaar om vir sy ma 'n pragtige geskenk te koop. Maar wanneer hy dit vir haar gee, glimlag sy en sê: 'Wat ek eerder sou wou gehad het, was dat jy meer tyd saam met my deurgebring het.' Hy het vir haar iets duurs gegee, maar hy het die een ding waarna haar hart verlang, gemis. Is dit nie hoe ons soms ook met God maak nie?
1 Samuel 15:22 Maar Samuel antwoord “Wat verkies die Here: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme. (NLV)
Dis wat Samuel vir koning Saul gesê het, nadat hy aan God ongehoorsaam was deur die vee van die vyand, teen God se bevel, vir hulself te hou, met die verskoning dat hulle dit vir die Here wil offer. Wel, Saul was uiterlik edel en gehoorsaam aan die wet, maar sy gedeeltelike gehoorsaamheid is steeds ongehoorsaamheid.
Dis so maklik om liedjies te sing, jou hande in aanbidding op te lig, kontant in die kollekte bordjie te gooi ... en tog, in jou hart nie opreg te wees nie. Maar hoe kan jy weet of jy opreg is? Ja, dis reg! Dis deur hoe jy lewe en wat jy doen.
Offers kan jou baie kos; gehoorsaamheid kos jou jou lewe.
Om gehoorsaam te wees, is beter as om offerdiere te slag,
en om te luister, is beter as om die vet van ramme te verbrand.
Gehoorsaamheid is die hoogste vorm van aanbidding.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.