God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Stank vir Dank
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Lukas 9:22 “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
Is jy al seergemaak deur iemand vir wie jy gehelp het? Jy was goedhartig, jy’t jou arms oopgemaak, jou beste gegee, en jy is met verwerping of verraad terugbetaal. Dit maak baie seer en dit vernietig jou vertroue in jou medemens.
Moeder Teresa het haar hele lewe daaraan gewy om die armes en sterwendes in die strate van Calcutta te dien. Sy het hospitale, skole en weeshuise gebou, en dít terwyl sy self verraai is. Party van haar naaste medewerkers het teen haar gedraai, leuens oor haar versprei en haar motiewe bevraagteken. Sy het in haar dagboek geskryf dat mense jou van selfsugtige motiewe beskuldig al is jy vriendelik en hulpvaardig teenoor hulle.
Miskien kan jy hiermee identifiseer. Jy het iemand gehelp, en hy het teen jou gedraai. Jou liefde is met verraad beantwoord.
Jesus verstaan daardie pyn. Een van sy dissipels, Judas, het hom vir dertig silwerstukke verkoop. En dan was daar sy groot vriend, Petrus wat selfs ontken het dat hy Hom ken. Het Hy dit verdien? Hy, wat die siekes gesond gemaak het, die honger mense gevoed het, die gebrokenes vergewe het!
Lukas 9:22 “Die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
Ten spyte van mense se gedrag het Jesus aan die kruis gebid: "Vader, vergeef hulle."
Dis die krag van goddelike liefde, dit hou aan gee, selfs wanneer dit seermaak.
As iemand jou dus diep seergemaak het, moenie hulle verraad toelaat om jou hart te verhard nie. Laat dit jou eerder nader trek aan die Een wat namens jou verraai is.
Sy liefde kan jou wonde genees.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.